‘n Marteldood

sound-proof-wall-800X800

David Warren kyk senuweeagtig na sy horlosie, en maak ‘n aantekening van die presiese tyd, tot die sekonde, in die lêer wat hy by hom dra. Dis ‘n ongemaklike affêre; die handskoene van die plastiekpak wat hy aanhet om hom teen gifgas te beskerm, se vingers is redelik dik. Hy staan bo-op ‘n leer wat die brandweermanne teen die Boeing 747 se romp staangemaak het, en kyk na die skare in die verte. Hy is skaars ‘n maand in sy pos as hoofondersoeker vir die Federale Lugvaartowerheid se takkantoor in Minnesota, en hy het homself voorberei op ‘n rustige lewe in ‘n staat waar bittermin gebeur, ongeluksgewys. Net om nou gekonfronteer te word met ‘n vliegtuig vol mense wat in ‘n mielieland buite Duluth neergeploeg het.

Die feit dat daar geen beweging van binne is nie, maak dit waarskynlik dat almal in die vliegtuig of bewusteloos, of dood is. Dis ‘n aardigheid; die vliegtuig het sy aanloop tot die John F. Kennedy Internasionale lughawe in New York gemis, en nie gereageer op enige radioroepe nie. Die lugmag het ‘n paar F16’s gestuur om die vliegtuig te volg en neer te skiet indien die ding gekaap was en ‘n herhaling van 9/11 op die kaarte was. Die F16’s het nader gevlieg en gerapporteer dat beide die kaptein en medevlieënier se koppe kante toe hang, met hul monde oopgetrek in grimasse van pyn. Die vliegtuig het verder wes gevlieg, vir amper twee duisend kilometer, oor die Groot Mere, oor die prairies, tot buite Duluth, waar die brandstof skynbaar klaargeraak het. Die outomatiese loods het sy voorafgestelde hoogte probeer handhaaf en die vliegtuig se neus opgetrek, maar die ding het net stadiger gevlieg en hoogte verloor en toe heel beskaafd teen presies die regte hoek die mielieland getref om aan die einde van ‘n lang ploegvoor in een stuk tot stilstand te kom.

Die klomp brandweer- en polisiemanne staan ver weg; as die vermoede van ‘n gifgasaanval waar is, gaan daar waarskynlik ‘n klomp gas by die romp uitpeul wanneer Dave die deur oopmaak. Hy beskou die noodreddingshandvatsel in die deur voor hom. Hy het die goed nog net tydens sy opleiding gesien. Maar te danke aan die FAA se regulasies werk al die vliegtuigvervaardigers s’n dieselfde. Hy vat die handvatsel stewig vas, druk dit na binne en draai, kloksgewys. Hy hoor hoe suig die lug van buite die vliegtuig binne. Die lugdruk binne die drukrompe van die groot vliegtuie word gewoonlik op omtrent 7,000 voet bo seespieël gehandhaaf, deels om die drukgradiënt binne en buite so klein as moontlik te hou op hul kruishoogte van 35,000 voet, en deels om die passasiers lomerig te maak sodat hulle makliker kan slaap. Duluth is skaars ‘n duisend voet bo seespieël. Dave maak nog ‘n aantekening in sy lêer. Dis duidelik dat die kaptein sy bewussyn verloor het toe hulle nog op kruishoogte was, en nooit die binnedruk aangepas het nie.

Hy weet hy mors tyd met sy sorgvuldige aantekeninge. Hy is net nie lus om hierdie tuig binne te gaan nie. Die manifes wat hulle van die lugdiens ontvang het, het aangedui dat die vliegtuig amper vol is; meer as drie honderd mense het in Schipol aanboord gegaan. En hier voor hom, agter hierdie deur, lê drie honderd lyke. Hy dwing homself om te glo dat hulle net bewusteloos is. Hy trek sy asem diep in en maak die deur oop.

Voor die deur lê ‘n lugwaardin op haar sy, met haar rug na Dave. Hy buk af en draai haar na hom, en val amper agteroor toe hy haar gesig sien. Dis duidelik dat sy nie net bewusteloos is nie. Haar oë peul amper uit haar kop uit en sy het ‘n uitdrukking op haar lewelose gesig van soveel pyn dat dit moeilik is om te dink wat dit kon veroorsaak. Dit kon net gifgas wees, dink Dave, toe hy weer by sy sinne kom. Hy voel hoe die angssweet op sy voorkop uitslaan. Gee vir hom ‘n stukkende masjien of ‘n vliegtuig wat neergestort het, nadat die noodpersoneel die lyke verwyder het, en hy kan agterkom wat skeefgeloop het. Dis sy brood en botter. Maar lyke en gewondes… Nee.

Hy kyk op. Ry op ry stoele is gevul met mense in die groteske kontorsies van hul laaste oomblikke. En die een ding wat hul almal in gemeen het, is die uitdrukking van naakte, ondenkbare pyn op hul gesigte. Daar is geen beweging nie, wat dit ookal was wat hierdie massadood tot gevolg gehad het, lyk of dit in geheel suksesvol was.

Dave haas terug na die deur en storm die trappe af. Hy spring die laaste paar trappe en kom hard op die grond te lande. Hy twyfel of hy dit kan inhou, maar hy moet so vêr as moontlik van die trappe wegkom voor hy die lugdigte helm van sy kop kan aftrek. Geen mens weet watse gas dit was, of hoe vêr dit nou al uit die vliegtuig gesypel het nie. Maar minder as tien treë verder kan hy net nie meer nie en hy pluk die helm af net toe sy ontbyt sy herverskyning maak.

“Is jy orraait?” hoor hy uit die verte.

Dave kom weer op sy voete en strompel na die noodpersoneel.

“Hulle is almal dood,” sê hy. “Dit lyk soos gas.”

“Oukei,” sê die polisiehoof. “Terrorisme?”

“Wat anders?”

“Nou goed. Dan’s dit uit ons hande. Jy sal die deur net weer moet gaan toemaak. Dis nou die FBI se kopseer.” Die man lyk verlig, met die dat ‘n vliegtuig vol lyke nie meer sy probleem is nie.

Dave weet die naaste FBI-kantoor is in St Paul. Dis ‘n hele entjie se ry, of vlieg, en dit gaan ure vir hulle neem om by die toneel uit te kom.

“Het julle ‘n kragopwekker?” vra hy die polisiehoof.

“Natuurlik. Wat wil jy daarmee maak?”

“Iemand gaan na die lughawe in Duluth moet ry en ‘n koppelstuk kry. Dan moet julle die kragopwekker by die noodkragpunt in die vliegtuig se stert koppel sodat ons ten minste die lugversorgers in die romp aan die gang kan kry. Dis soos ‘n oond daarbinne, en die lugversorgers werk net solank die enjins draai, of as die vliegtuig op die lughawe se krag gekoppel is.”

“Dit maak sin,” antwoord die polisieman.

 

‘n Halfuur later is die polisie se opwekker op die toneel, en staan als gekoppel en gereed. Dave het ‘n Valium by een van die ambulansmanne gebedel, en hy moet weer die vliegtuig binne. Hy is die enigste van die mense wat enigiets van vliegtuigstelsels af weet, en moet seker maak dat al die regte knoppe in die stuurkajuit gedruk is om die kragtoevoer van buite te aanvaar. Hy het ‘n tweerigtingradio by hom en hy moet vir die manne by die opwekker die sein gee wanneer als reg is, sodat hulle die ding aan die gang kan kry.

Die liggies op die instrumentpaneel brand nog; die vliegtuie het net noodkrag vir die vlugbeheerstelsels. Die lugversorgers trek egter te veel krag en is uitsluitlik op die draai van die turbines aangewese. Hy probeer sy bes om die lyke van die loods en medeloods te ignoreer, maar die pynmaskers op hul lewelose gesigte is amper een te veel. Dit wil voorkom of die valium darem help.

Hy moet oor die medeloods se lyk buk om die beheerpaneel vir die elektriese stelsels by te kom, en hy verbeel homself dat hy die dood deur sy beskermende gasdigte oorpak kan ruik. Die reuk van die dood is ‘n oerbekende reuk, dalk daar geplant om die mens se voorsate te beskerm teen die eet van vrot vleis. Als in Dave se liggaam wil hom terugdwing na die deur, na buite, na vars lug en ruimte. Maar met ysere wilskrag en ‘n goeie skoot Valium bly hy staan en hy rol sy vinger teen die beheerpaneel se knoppies af. Hy weet dit is net een skakelaar waarna hy soek. Maar dis nie maklik nie. Daar is skakelaars om stroombane te herlei na rugsteunstelsels, skakelaars vir die ligte in die kajuit, skakelaars vir als onder die son behalwe waarna hy soek. Hy voel hoe die paniek soos ‘n koue baksteen in sy maag gaan le.

Na wat soos ure voel, kry hy die regte knop. “AUX POWER”, staan daarop, en Dave druk die knoppie. Hy sien hoe ‘n vae liggie langs die skakelaar aangaan. “Ek is reg, skakel die opwekker aan,” sê hy in die tweerigtingradio. Hy hoor die verligting in sy stem.

“Roger,” antwoord ‘n stem oor die radio. “Ons skakel aan.”

Dave kom orent en soek na ‘n tweede paneel. Voor hy hierdie vlieënde katakombe kan verlaat, moet hy eers seker maak dat die lugversorgers op hul koudste gestel is. Anders gaan dit niks help nie. Hy buk oor die paneel tussen die twee lyke en laat sy oë oor die rye en rye knoppies en hefbome gaan. Hy sien ‘n paneeltjie met die titel “Cabin Pressure / Temp”, en daaronder ‘n paar skakelaars en stelknoppe. Hy skrik soos sy skaduwee skielik teen die paneel voor hom verskyn. Die kajuitlig het sopas aangegaan. Goed so, nou is daar krag. Hy verbeel hom hy hoor die opwekker van buite, maar voor hy verder daaroor kon dink, word sy kop gevul met die seerste pyn wat hy nog beleef het. Hy is bewus van die ritmiese puls uit die kajuitluidsprekers uit, teen topvolume.

Sy lippe trek terug en sy tande ontbloot, hulle kners teen mekaar en dit wil voel op die enamel op sy kiestande kraak. Dave was al voorheen die slagoffer van ‘n migraine-aanval of twee, maar hierdie pyn is erger as wat hy ooit ervaar het. Hy val agteroor en voel hoe sy rug krom trek. Al sy spiere is in ‘n spasma, en die pyn is so groot dat hy wens vir die dood. Hy sien hoe die wêreld kleiner raak voor hom, die kajuit en die blou raam van die windskerm waardeur hy die ysige blou lug van Minnesota sien word ‘n klein kolletjie in sy bewussyn, en toe is dit net die swart, ewige, welkome, pynlose ewigheid.

 

“Wie de hel is die Boereversetbeweging?” vra Spesiale Agent Richard Quinn met ‘n frons.

“Ek weet nie,” antwoord sy tweede-in-bevel. “Ek het ook nou eers van die BVB gehoor.”

“Hulle het verantwoordelikheid vir hierdie ongeluk geneem,” se Quinn, toe die swart FBI Suburban langs die spul ambulanse en brandweerwaens stilhou. Hy klim uit, en bekyk die toneel. Aan die punt van ‘n lang, omgeploegte voor lê die Boeing op sy pens tussen die mielies. ‘n Mens sien dit nie elke dag nie, dink hy. ‘n Bleek polisieman kom nadergestap en stel homself voor.

“Wat is die status?” vra Quinn, sonder om homself voor te stel. Dis nou sý toneel hierdie, en sy gesag spreek vanself.

“Ons het ‘n opwekker gekoppel om die lugversorgers in die kajuit aan te sit,” sê die polisieman. “Maar toe kap almal naby die vliegtuig om. Ons het nog nie weer ‘n woord van hulle gehoor nie, nie van die mense by die opwekker, of van die ondersoekbeampte in die vliegtuig nie.”

“H’m,” sê Quinn. “As die ondersoekbeampte ‘n hazmat-suit aangehad het, is dit duidelik nie gifgas nie.”

“Ek het my manne belet om nader te gaan. Een wou gaan kyk wat by die opwekker aangaan, maar hy het soos ‘n os neergeslaan toe hy naby die vliegtuig kom.”

“Is hy dood?”

“Nee, maar hy is nog bewusteloos. ‘n Brandweerman het hom gaan haal.”

“Het die brandweerman iets oorgekom?”

“Nee,” antwoord die polisieman. “Hy’s orraait.”

“Roep hom vir my.”

‘n Paar sekondes later is die brandweerman daar. Quinn kyk die man op en af. ‘n Sterk knaap, hy lyk soos die tipe wat ‘n slagoffer soos ‘n sak mielies oor sy skouer kan gooi en uit ‘n brandende gebou red.

“Het jy enigiets gesien, gehoor, of gevoel toe jy by die bewustelose man gekom het?” vra Quinn. Hy krap sy ken.

“Ekskuus?” sê die man. Hy het ‘n beleefde glimlag op sy gesig. “Ek is doof, gewoonlik moet ek liplees. En jou hand is voor jou mond.”

“O, ekskuus,” sê Quinn. Hy laat sak sy hand en herhaal die vraag.

“Nee, niks,” antwoord die man. “Die ou het net voor my op die grond gelê en spartel. Ek weet nie wat hom getref het nie. Maar ék het niks oorgekom nie.”

“Kry vir my oorpluisies,” sê Quinn vir sy assistent. “Ek dink ek weet wat hier aangaan.”

“Sekerlik.” Sekondes later druk die ou twee pluisies in Quinn se hande. “Dis die sterkste wat ons het, maar hulle is nie heeltemal klankdig nie.”

“Dis reg,” antwoord Quinn. Hy draai terug na die brandweerman. “Stap saam met my.”

Quinn druk die pluisies diep in sy ore en begin stap in die rigting van die kragopwekker. Hulle moet langs die vliegtuig se romp verby stap om by die opwekker te kom, en Quinn voel hoe ‘n groot pyn sy harsings uitmekaar wil skeur. Dit raak erger hoe nader hulle aan die oop deur by die romp kom. Hy voel naar; die pluisies werk so goed hulle kan, maar die klank van buite word deur sy kakebeen herlei na sy binneoor.

“Voel jy enigiets?” vra hy die dowe brandweerman. Hy maak seker om sy gesig na die man te wys sodat hy kan liplees.

Die ou glimlag net vir Quinn en skud sy kop. Nee, hy voel niks.

“Ek het so gedink,” mompel Quinn, en begin vinniger stap na die kragopwekker. Hy voel lighoofdig, van balans af. Hy weet nie vir hoe lank hy nog staande sal kan bly nie.

By die kragopwekker word hulle deur drie lyke begroet. Een man agter die stuur van die vragmotor wat die opwekker aansleep, en twee mans by die opwekker self. Die een het bloed wat by sy ore uitkom. Gemeet aan die donkerte van die bloed, is hulle al vir ‘n hele rukkie daarmee heen.

“Skakel die ding af,” beduie hy aan die brandweerman. Die man knik, en sekondes later sien Quinn hoe die vibrasie van die opwekker tot ‘n einde kom. Hy voel oombliklik beter.

“Aah,” sê hy, en trek die pluisies uit sy ore. Hy makeer skielik niks. Hy draai terug na waar die FBI-manne hom bekommerd uit die verte dophou, en beduie hulle nader.

“Wat gaan aan?” vra sy tweede-in-bevel.

“Dit was ‘n klankaanval,” sê Quinn. “Ons het baie toetse daarop gedoen in die 70’s, hoogs geklassifiseerd. Maar ons kon dit nooit regkry nie.”

“Ja?” vra sy assistent, geinteresseerd.

“Dis net teoreties, maar dit lyk my hierdie ouens het dit reggekry.”

“Daai Boereverset-spul?”

“Dit wil so lyk, ja.” Quinn krap weer sy ken. “Die teorie sê dat dit moontlik is om mense dood te maak met klank. Sien, ons bewussyn werk op ‘n spesifieke frekwensie. Die tempo waarteen sinapses in die brein afvuur, en so aan. Daar is byvoorbeeld die een spesifieke elektriese breinontlading wat teen ‘n gereelde tempo moet plaasvind, wat jou hart ritmies laat klop.”

“Soos pasaangeers.”

“Presies. ‘n Pasaangeer neem daardie funskie oor. As jy met daardie frekwensie kan lol, kan jy iemand doodmaak sonder dat enige nadoodse ondersoek enigiets sal wys.”

“Ek sien,” sê sy assistent. “Dit maak sin.”

“Hierdie Boereverset-ouens het duidelik die vliegtuig se klankstelsel op ‘n manier onderskep, en ‘n klankstroom oor die luidsprekers laat gaan wat almal op die vlug doodgemaak het. Ons moet daardie klankbron kry. Dis krities!”

“Maar…”

“Nikse maar nie,” sê Quinn. Hy trek sy assistent eenkant toe, buite hoorafstand van die ander agente. “Ons moet daardie klankbron kry. Dit sal vir ons ‘n nuwe wapen in ons arsenaal gee. Dink net, ons kan vir Kim Jong Un uithaal, vir Robert Mugabe, enige despoot wat die lewe vir ons moeilik maak. En niemand sal ooit ‘n vinger na die VSA kan wys nie!”

“Reg,” sê die man, onseker. “So wat stel jy voor?”

“Ek reken met my gesag op die toneel kan ek vir ons ‘n uur of wat koop voor die ander ouens gaan begin vrae vra. Kom.” Hy trek die ou aan sy arm nader en sleep hom na die trappe by die deur toe. Die ander agente volg hulle, maar by die trappe draai Quinn terug na hulle met sy hand in die lug.

“Hier is genoeg mense dood, vandag. Julle bly net hier. Ons twee gaan in, en sal die toneel ‘n aanvanklike vee gee.”

Van die agente sit hulself teë, maar die meeste lyk verlig dat hulle nie die vliegtuig hoef te betree nie.

Quinn stap die trappe op en maak die deur oop. Hy het nie verwag dat die lykbesaaide toneel hom gaan pla nie, maar die gemartelde uitdrukkings op hul gesigte is vir hom nuut. Hy het al vele reeksmoordenaars se slagoffers van nader beskou, en gereken dit is die ergste wat mense aan mekaar kan doen. Maar hierdie mense lyk of hulle doodgemartel is. Dit herinner om aan geëtsde tonele uit geskiedenishandboeke van die inkwisisie, waar mense op die wreedste, pynlikste maniere denkbaar om die lewe gebring is.

“Waarna soek ons?” vra sy assistent. Quinn sien die geskokte uitdrukking op die man se gesig.

“Kyk na die kantpanele, of enigiets waar iemand ‘n toestel by die vliegtuig se bedrading ingeprop het.”

Die deur is rofweg in die middel van die romp, en Quinn beweeg na die neus terwyl sy assistent na die stert beweeg. Hy ondersoek elke ry, kyk na elke toeganspaneel. Maar al wat hy sien is net rye en rye lyke; dit lyk soos iets wat Dante sou skilder.

“Hier!” hoor hy sy assistent vanuit die agterruim. “Ek het dit!”

Quinn haas homself agtertoe en sien waar sy assistent selfvoldaan na die rugleuning van een van die stoele wys. Die paneel is losgeskroef en ‘n klomp los draadjies hang daaruit. Daar lê ‘n iPod op die sitplek, en vanuit die iPod se oorfoonsok lei twee draadjies na die spul agter die sitplek. Quinn neem die iPod en pluk die drade los.

“Dis hy,” sê Quinn. “Die klanklêers hierop het al hierdie mense doodgemaak. Ek moet hierdie na ons laboratorium toe neem. Maar ons kan niemand vertel hiervan nie, oukei. Hierdie is ‘n staatsgeheim. Maak toe daardie paneel, en steek die drade terug. Hierdie ongeluk gaan ‘n enigma vir die lugvaartowerheid wees, maar dis nou maar so.”

“Nou goed,” sê die assistent. Hy mag dalk ‘n skoothondjie wees, maar hy weet aan watter kant sy brood gebotter is, dink Quinn. Dalk sal sy kennis hiervan tot ‘n verhoogde sekuriteitsklaring lei. Watookal. Die lêers op die iPod is goud werd.

Nou moet hulle net uitvind wie die Boereversetbeweging is. Na die beste van sy wete is die Boere ‘n klomp wittes in Afrika, iewers. Hy het iewers op skool ‘n geskiedenisles oor die klomp gehad, as hy reg kan onthou.

Terwyl sy assistent die paneel vasskroef, skakel Quinn die iPod aan. Die ding het nie luidsprekers nie, so die lêers sal vir hom geen gevaar inhou nie. Die skermpie kom helder onder sy vingers aan, en hy begin deur die indeks rol.

Dit lyk soos gewone musieklêers, maar die taal waarin die verskillende titels geskryf is, is vir hom vreemd. Dit lyk soos Duits, maar daar is geen umlauts of enige sulke dinge nie. Dalk Nederlands? Ja. Dit kan dalk Nederlands wees. Hy sal een van die taalspesialiste in Quantico kry om te kyk.

Hy rol die indeks verder op tot hy bo by die titel van die album, en die kunstenaar se naam uitkom. Daar is selfs ‘n foto van die kunstenaar. Soos enige ander terroris wat Quinn al gesien het, het die ou swart hare, en donker oë. Is die Boere dan Moslems? Hy het dít nie geweet nie. Maar dan, aan die ander kant, weet hy nie veel van wat buite die grense van die VSA aangaan nie.

“Mike,” sê hy vir sy assistent. Die ou kom regop, duidelik geïrriteerd dat hy nou in die rede geval word terwyl hy besig is.

“Ja?” vra hy.

“Beteken die naam Jurie Els vir jou enigiets?”

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s