Adam & Evelyn

Wine_2340370b

Met ‘n harde geknars kom Adam se BMW tot stilstand teen iets. Die verkeerslig? ‘n Boom? Wie weet? Sy kop draai. Hy het pas die kruising binnegegaan, en die volgende oomblik is hy na regs geslinger soos ‘n ander voertuig hardhandig met syne kennis gemaak het. Sy ore sing; al die lugsakke het ontplof. ‘n Aardige reuk vul sy longe. Hy voel érg gedisorïenteer. Die BMW se enjin gee twee halstarrige stikke en gaan staan. ‘n Doodse stilte sak oor die toneel. Verdomp. Nou gaan hy die wêreld se drama met versekeringseise hê. Hy kyk af na waar hy sit en sien dat daar darem nie enige sigbare bloed is nie. Hy besef hy moet eintlik dankbaar wees – dit kon seker baie erger gewees het.

‘n Vinnige blik in die truspieëltjie wys niks – die slag het dit die spieëltjie heeltemal na links gedraai en al wat hy in die ding sien is net die weerkaatsing van die uitgeblaaste lugsak wat oor die passasiersitplek lê.

Adam trek sy asem diep in en berei homself voor vir die geveg wat voorlê. Hy en die bestuurder van die ander motor gaan nou saam moet wag vir die insleepdienste, en dit gaan nie ‘n gemaklike gesprek afgee nie. Een van die twee was skuldig. ‘n Kruising met ‘n verkeerslig werk nét op een manier. En sovêr hy kan onthou, was die lig vir hom groen. Of was dit? Om eerlik te wees, het hy nie rerig opgelet nie.

Hy kan nie dit nou bekostig nie. Hy sal maar die onskuld-kaart speel en die blaam op die ander party pak. Hoe ookal, dit wil nie lyk of sy onmiddelike toekoms ‘n vriendelike gesprek gaan inhou nie.

Adam maak sy veiligheidsgordel los en klim uit. Die wêreld draai. Sy BMW het sylings teen die stam van ‘n stewige Jakaranda-boom tot stilstand gekom. Die passasiersdeur is diep ingeduik waar die boomstam staan, maar die skade daar is nietig in vergelyking met die res van die kar. Van die linkeragterdeur tot by die kattebak is dit net een groot gemors.

Hy hoor ‘n deur oopmaak aan die oorkant van die straat, en sien ‘n helderrooi motor in ‘n soortgelyke toestand as syne. Dis ‘n Honda. Of, ten minste, die kenteken op die stert sê so. ‘n Pragtige blonde vrou klim uit. Sy skud haar kop effens en sit haar hande op die motor se dak. Dalk vir balans. Sy kyk oor die straat na Adam en roep “Is jy orraait?”

Refleksief voel hy oor sy lyf en roep terug, “Ja, en jy?”

“Ja,” roep sy terug. “Maar dis meer as wat ek van my kar kan sê.”

Adam kyk links en regs oor die straat en sien geen verkeer nie. Dis elfuur die oggend, die strate is stil. Die reuk van Jakarandablomme hang swaar in die lug. Hy stap oor die straat en sluit hom by die vrou aan.

“Adam Ferreira,” sê hy, en steek sy hand uit. Hy voel aardig, sukkel om sy balans te hou.

“Evelyn Marais,” sê sy, en neem sy hand in hare. Hy voel die sagte, warm vel van haar hand onder syne. “Wat ‘n gemors.”

“Dit is, ja,” antwoord Adam. “Is jy seker jy’s orraait?”

“Ja,” antwoord sy. Haar stem is sag, bekoorlik.

“Die lig was vir my groen,” sê Adam.

“Rerig?” vra Evelyn. “Ek kon sweer dit was vir mý groen.” Sy klink meer verbaas as beskuldigend.

“Ek is nie heeltemal seker nie, om die waarheid te sê,” antwoord Adam. Hy’s te deurmekaar van die slag om te lieg, of om te wíl lieg.

“Dit maak seker nie saak nie,” sê Evelyn. “Dis net ‘n goeie ding dat ons altwee ongedeerd is.”

“Natuurlik,” sê Adam. “Dit kon baie erger gewees het.”

“Presies.”

Adam kyk na Evelyn en sien hoe die fyn lyntjies op haar voorkop verdiep tot ‘n dieper plooi. Sy kyk na hom met kommer op haar gesig. “Is jy seker jy’s orraait?”

“Nie rerig nie, nee,” sê Adam. Hy slaan sy hande ook op haar Honda se dak, ook vir balans. Hy voel duiselig. Die grense van sy sig word donker. Hy voel hy moet gaan sit.

“So, waarheen was jy oppad?” vra sy. Hy voel haar hand op sy skouer.

Adam probeer dink. Waarheen het hy gery? O ja – sy dogter se prysuitdeling. Sy dogter, Anne, bly by haar ma in Akasia. En hulle het ‘n prysuitdeling vanmiddag waar sy haar akademiese kleure gaan kry omdat… nee, wag. Dis eers vólgende week. Waarheen, dan? Hoekom is hy nie nou op kantoor nie?

“Ek weet nie,” sê hy.

“Het jy nie dalk jou kop gestamp nie?” vra sy. Daar is ‘n sagte sorg in haar stem. So asof sy rérig omgee.

“Ek dink nie so nie.” Adam voel oor sy kop, en die lig van sy arm maak hom nog méér duiselig voel. “Waarheen was jy oppad?” vra hy.

“Ek is ‘n eiedomsagent,” sê sy. Adam verwonder homself aan die fyn modulasie van haar stem. Sy sal ‘n goeie sangeres uitmaak, dink hy. “En ek het die prys gewen vir die grootste omset vir ons agentskap in Pretoria. Ek was nou oppad na die funksie toe.”

“Ek is jammer,” sê Adam. “Nou gaan jy dit mis.”

“Dit maak nie saak nie,” sê sy. “Dit gaan nie my besigheid beïnvloed as ek nie daar is nie.”

“Ek is bly as dit die geval is,” antwoord Adam. Waarheen was hy oppad? Hy kan sy brein net nie in rat kry nie.

“So, Adam Ferreira,” sê sy met haar pragtige stem. “Wat maak ‘n man soos jy in hierdie geweste?”

“Hoe nou?” vra hy, heeltemal uit die veld geslaan. ‘n Ongeluk is een ding, maar om nou by die ander party aan te lê terwyl die stoom nog uit die wrakke se verkoelers kom is iets heeltemal anders.

“Jy’s duidelik nie getroud nie,” sê sy, en beduie na sy ongeringde linkerhand op die Honda se dak voor haar. “En jy’s nie die onaanskoulikste mens wat ek in my lewe teëgekom het nie.”

“Aag toe nou,” antwoord Adam. “Ons was nou nét in ‘n ongeluk.”

“Ek weet,” sê sy. “Maar ek is van die opinie dat dinge met ‘n rede gebeur.”

Adam kyk haar op en af. Hy besef dat dit dalk ongeskik mag oorkom. Maar sy het hom gevra of hy orraait is, dalk kan hy die hele ongeluk-ding vir nog ‘n entjie druk. Sy is beeldskoon; sy het ‘n kort rokkie aan wat haar perfekte bruingebrande bene raam. Haar smal heupe maak ‘n effense bult onder haar smal middel, en die lyn van haar lyf vorm ‘n perfekte uurglas tot by haar borste wat fier en trots voor haar uitgestoot word.

Adam se vrou het hom ‘n jaar of wat gelede verlaat. Wat haar rede was, is vir hom nog steeds duister. Of dit ‘n ander man is, weet hy nie. Maar hy het homself nog net nie weer in ‘n verhouding gesien, of begeef, nie. Maar hier staan ‘n pragtige voorbeeld van die vroulike vorm van die spesie voor hom, en dalk is sy reg – dalk gebeur dinge met ‘n rede.

“Ek is jammer ons moes onder sulke omstandighede ontmoet,” sê Adam. Dit voel vir hom soos ‘n simpel ding om te sê, maar nou ja. Gedane sake.

“Moenie wees nie,” sê sy. “Jy’s single, ek is single, wat is twee karre?”

Adam sien hoe haar mondhoeke lig, en hoe sy glimlag. Haar ooghoeke verplooi tot die mooiste laglyne wat hy in sy lewe gesien het. Sy hart vermurwe. Kan dit wees? Sy innerlike, siniese self kom na vore en hy vermaan homself om nie simpel te wees nie. Maar Evelyn Marais is die mooiste mens wat hy in sy lewe teëgekom het.

“Dis seker waar,” sê hy. Hy voel simpel. Soos ‘n simpel matrieklaaitie.

“So, kom ek sê jou wat,” sê sy. “Ek was oppad na my funksie toe.”

“Ja?” vra Adam, geïnterreseerd.

“En jy was duidelik oppad iewers heen, buite werksure.”

“Ja … wag.” Dinge kom nou terug na hom toe. Hy was oppad na sy grootste kliënt in die Noorde, ‘n maatskappy wat so pas ‘n tien miljoen-rand bestelling geplaas het. Waarvan sy kommissie tien persent is. “’n Miljoen. Ek onthou nou … Ek moet die kliënt gaan gelukkig hou.”

“’n Miljoen?” vra sy. Adam sien die lyntjies op haar voorkop lig. “Dis nie sleg nie. Maar gaan dit nie moeilikheid gee as jy laat is nie?”

“Glad nie,” antwoord Adam. “Dis ‘n infrastruktuur-ding. Die deal is reeds gedoen en die werk is halfpad klaar. Of ek gaan laat kom maak nie saak nie.”

“Is jy seker?” vra sy. Adam sien ‘n duisend duiwels agter haar oë lag. Hoe op aarde het dit gebeur dat die vrou vir wie hy sy lewe lank nog wag, eers in hom moes vasry voor hy haar raakgesien het?

“Ek is seker, ja,” sê hy.

“Ek het ‘n bottel wyn hier agter in die kar,” sê sy. “Ek dink ons het iets om te vier.”

“Waarvan praat jy?”

“Ek het dit gekoop om vanaand rustig my prys by die huis te vier. Maar nou het ons ontmoet. So ons kan net sowel dít vier. En, om die waarheid te sê, wil dit my lyk of jy aan skok ly. ‘n Paar slukke goeie wyn is dalk net wat jy nodig het.”

Adam kyk na haar waar sy van hom wegdraai en na die verwoeste Honda se kattebak stap. Sy het ‘n ideale, op die oog af fikse lyf. Haar skouers is netjies en lynloos bruingebrand onder die dun toutjies wat haar somersrokkie bo hou. Haar ligte hare word speels deur die ligte bries rondgepluk. Sy lyk perfek. Adam hoor die kattebak oopgaan en na ‘n kortstondige gevroetel maak sy dit weer toe. Sy verskyn langs hom met ‘n bottel wat sy na hom uithou.

“Pinot Noir,” sê sy. “Gelukkig het die bottel die ongeluk oorleef. Ek het ongelukkig net nie glase nie, ek het nie gedink ek sou langs die pad dors word nie!”

Adam neem die bottel by haar en krap in sy broeksak vir sy knipmes. Gelukkig het die darem ‘n botteloopmaker aan.

Na ‘n minuut of wat het hy die bottel oop, en hy hou die bottel nek-eerste na haar toe uit.

“Dankie,” sê sy, en hou die bottel in die lug. “Op nuwe vriendskappe, en aardige ontmoetings!” Sy bring die bottel na haar lippe en neem ‘n klein slukkie. Sy gee weer die wynbottel vir hom terug.

“Op dit wat jy nounet gesê het,” sê Adam, en lig die bottel na sy lippe. Hy neem ‘n sluk. Dis goeie wyn. Bietjie vroeg in die dag vir hom, maar wat. Hy neem nog ‘n sluk, en sien hoe Evelyn haar delikate regterhand onder die bottel se boom hou en dit lig. Hy het nie ‘n keuse nie en sluk nog.

“Kry nog,” sê sy. “Jy ly aan erge skok. Dit kan jou net goed doen.”

Hy voel hoe die groot slukke wyn warm in sy maag val. Sy is dalk reg. ‘n Klomp wyn sal hom laat ontspan, hom oor die ergste laat kom. Hy sluk, en sluk nog.

Hy sien hoe Evelyn in haar handsak krap en iets uithaal. Sy steek dit in haar mond, en begin kou. Kougom… dis aardig.

Hy laat sak uiteindelik die bottel en beskou die inhoud. Daar is omtrent ‘n derde van die wyn oor. Hy voel al reeds beter, die spanningsknoop in sy skouers voel of dit begin ontspan.

“Kry vir jou nog,” sê hy, en hou die bottel na haar uit. “Dis rérig goeie wyn, dié.”

“Aag, nee wat, dankie,” sê sy.

“En nou? Wat van die viering van ons ontmoeting?”

“Dis als reg,” sê sy, met ‘n skielike afsydige houding. “Maar ek dink ek gaan maar eerder net hier staan en vir die polisie wag.”

Advertisements

One thought on “Adam & Evelyn

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s