Tant Bessie Wil Skei…

Moenie met ou omies sukkel nie…

plaas

Tant Bessie wil Skei

Tant Bessie kyk op van haar breiwerk. ‘n Ligte pienk mussie vir haar derde agterkleinkind. Die voorhuis is stil in die middagkoelte, haar koppie tee staan en koud word op die sideboard wat sy van haar ouma geërf het. Dit wil darem lyk of Maggie vir ‘n verandering daar afgestof het.

Haar oë trek onwillekeurig na die dik bruin koevert op die koffietafel. Skeidokumente. En dit, op haar ouderdom! Dis nie asof sy hoegenaamd, soos die kinders sou sê, ‘bemarkbaar’ gaan wees as geskeide vrou nie. Twee en tagtig is darem gans te oud daarvoor. Maar dit pla haar ook nie. Sy stel nie in mansgeselskap belang nie. Om van Martiens te skei is egter die enigste manier hoe sy van hierdie plaas af gaan kom. Dan kan sy rustig in die ouetehuis op die dorp gaan sit en haar laaste jare tussen vriende geniet. Net nie hier nie. Nie saam met Martiens nie. Sy was nog altyd ‘n geduldige vrou. Maar geduld kan ook net só ver gerek word. Soos ‘n rek. Trek die ding te ver, en hy breek. En hoe ouer die rek, hoe makliker breek die ding. En sy is ‘n redelike ou stuk rekvel.

Die kinders. Dis die ding. Wat gaan sy vir hulle sê? Die kleinkinders is almal gek oor oupa Martiens, en het altyd die snaakste staaltjies te vertelle oor hul kindervakansies op die plaas. Maar hulle is nou al almal uit hul ouerhuise en het hul eie potjies om te krap. Maar deesdae kom hulle ook maar bittermin op die plaas. Sy hoef nie haar laaste jare saam met Martiens te sluit om haar kleinkinders se illusies te bewaar nie.

Twee van haar eie kinders is self geskei. Maar hulle het dit darem in hul dertigs gedoen, toe daar nog ‘n toekoms met ‘n nuwe lewensmaat te boue was. Al het hulle nie ‘n voet om op te staan nie, sal hulle sekerlik ook dink sy’s van lootjie getik.

Maar hulle bly nie saam met Martiens nie. Hulle sal nie verstaan nie. Toe hulle kinders was, was Martiens net effens eksentriek. Net genoeg om groot vermaak te verskaf aan iemand met ‘n effense skewe sin vir humor. Maar nou wil dit lyk of die man stapelgek geraak het.

Daar is medies gesproke niks fout met hom nie. Sy het hom vir allerhande toetse by allerhande kwakke gehad, en die resultate was elke keer dieselfde. Martiens makeer niks. Nie sy brein nie, nie sy hart nie, nie sy longe of enige ander onderdeel nie. Maar hoe die man aangaan! Genade. Iewers is ‘n skroef los. ‘n Grote. Dalk is dit maar net die plaas.

Martiens het kom vlerksleep toe sy nog op skool was. Sy was nog in matriek toe die man hier aangekom het met sy hare netjies gekam, uitgedos in ‘n nuwe pak klere. Martiens was die bure se enigste seun en erfgenaam. Hulle het as kinders gereeld in die vlei kleilat gegooi tot hulle die ouderdom bereik het waar die teenoorgestelde geslag om een of ander rede skielik met agterdog bejeën word. Hy was egter nie saam met haar op skool in die dorp nie. Sy ouers het hom na die landbouskool anderkant Thabazimbi gestuur. Hulle het mekaar vir jare nie gesien nie. Net af en toe in die verbyry mekaar se bestaan met ‘n afwykende kopknik erken. En toe, in haar matriekjaar, klop Martiens aan die deur.

En van daar, ‘n warrelwind. Dis seker maar hoe dit moes wees. Na ‘n groot bruilof is die grensdraad tussen die twee plase uitgetrek en het Martiens weggetrek as een van die meer suksesvolle jong boere in die distrik. Maar dis als geskiedenis. Die prokureur het haar gesê dat sy nie oor geld hoef te kommer nie, want al boer Martiens nie meer nie en verhuur hy tans net die landerye uit, is die helfte van die huurobrengs nog steeds hare. Nie weens een of ander regstegniese geknoeiery nie, maar weens die feit dat die helfte van die grond nog steeds aan haar behoort.

Dis nou al twee maande vandat sy die prokureur ontbied het. Sy het gewag tot die rugby-wêreldbeker. Dan sou Martiens vir ure in die plaaslike kroeg sit en die wedstryde luidrugtig analiseer. Drink hy, het die prokureur besorgd gevra. As dit maar net drank was. Dan het sy ten minste iets gehad om die blaam op te pak. Nee, het sy geantwoord. Die man is net so mal soos ‘n haas.

Die prokureur het die dokumente die volgende week kom aflewer. Al wat nodig was, was net Martiens se handtekening. Dan is die egskeiding onbestrede, en dan is dit sommer vinnig deur die hof. Tjoef tjaf, het hy gesê. As dit nie ‘n onbestrede egskeiding is nie, gaan dit ‘n lang en smerige affêre in die hooggeregshof afgee. En daarvoor sien sy nie kans nie.

Maar sy moet net eers vir Martiens in die regte bui kry. Die saak aan hom verduidelik. Aan hom verduidelik dat sy nou redelik gatvol vir sy kaskenades is.Vir sy aardighede wat al lankal nie meer as vermaaklike eksentrikiteite afgemaak kan word nie. Dat sy moeg is. Dat sy rustig in die ouetehuis op die dorp saam met haar vriendinne wil gaan rus. En dat sy hom nie daar wil hê nie.

Sy tel die koevert van die tafel en trek die dokumente uit. Op die voorblad staan daar heel formeel ‘Versoek tot ontbinding van die eg tussen Johanna Elisabet Marais en Marthinus Gerhardus Marais’. Sy blaai deur die dokumente en dink aan wat haar te doen staan. Vandag is die dag wat Martiens die dokumente teken. Kom wat wil.

‘n Skielike stilte daal oor die werf. Tant Bessie druk haar bril reg op haar neus en kyk deur die kantgordyne na die voorhek. Van waar sy sit kan sy ‘n entjie in die plaaspaadjie anderkant die hek afkyk. Martiens se spul werfhonde (of brakke, in Tant Bessie se eerlike opinie), staan onseker langs die hek onder die watertenk se skaduwee. In die verte kom oom Martiens se vuilwit 1982-model Hilux bakkie aangejaag. Blykbaar teen so ‘n spoed dat selfs die honde nie die geraas herken nie.

Met ‘n geklap van rugwerwels wat sukkel om in gelid te kom, staan Tant Bessie op. Sy kry die dokumente in ‘n netjiese hopie en sit dit sorgvuldig in die sideboard se boonste laai. Sy stoot die laai toe en stap na buite. Daar moet moeilikheid van een of ander aard wees as Martiens só jaag.

Sy staan op die stoep, hande in die sye. Klap na ‘n halstarrige vlieg wat nie wil wyk nie. Vee ‘n druppel sweet van haar voorkop.

Martiens maak dit deur die hek. Hy kom in ‘n stofwolk voor die stoep tot stilstand. Agter hom begin die elektriese hek brom met die toemaak.

“Ha,” sê oom Martiens met die uitklim.

“En dié gejaag?” vra tant Bessie.

“Nou’t ek hom gewys,” sê oom Martiens. Hy buk terug in die bakkie in en trek ‘n vel papier uit.

“Wat het jy nou weer vir wie gewys?” Tant Bessie doen niks om haar ongeduld met oom Martiens se streke te verbloem nie.

“Vir Hans,” antwoord oom Martiens. “Hans Vermeulen.” Asof daar meer as een Hans in sy lewe is. Hy bied geen verdere verduideliking aan nie.

Hans Vermeulen besit die buurplaas. Sy plaas grens aan die deel wat ou Martiens van sy pa geërf het. Soos Martiens het Hans Vermeulen ook op sy ouerplaas grootgeword, en hy en Martiens het van kleins af al die kompetisie tussen hulle. Wie se bul die grootste is. Wie se oes die beste lyk. Kleinlike, simpel, kinderlike goed. Vir meer as sewentig jaar, al. Dis genoeg om enige nugtere mens rasend te maak.

En nou moes Hans Vermeulen mos ‘n persoonlike nommerplaat vir sy bakkie kry. In stede van vrede maak met die klomp deurmekaar letters wat die stadsraad aan hom toegeken het met die aankoop van sy nuwe bakkie, het Hans ‘n paar duisend rand uitgehaal en die registrasienommer na ‘HANS 1’ laat verander. Waarom, weet nugter. Maar dit het ‘n onmenslike ongelukkigheid oor ou Martiens se gemoed laat kom.

Ongelukkigheid gebore uit plein jaloesie. Niks minder nie en niks meer nie. Daarvan is tant Bessie so seker as die son wat more gaan opkom.

“Aag jinnetjie tog, Martiens,” sê tant Bessie moedeloos. “Wat het jy nou weer aangevang?”

“Ha,” antwoord oom Martiens. Hy stap by tant Bessie verby. Sy volg hom binnetoe, mik eers na die sideboard met haar bevrydingsdokumente in die bolaai, maar stap dan agter hom aan kombuis toe. Laat sy net eers die man se gemoed taks. Ou Martiens gaan sit by die kombuistafel en trek sy pyp uit sy hempsak. Uit die ander een vroetel hy sy twaksak.

“Jig,” sê tant Bessie. “Moet jy?” Sy weet Martiens het hom nog nooit aan haar opinie oor sy pyprokery in die huis gesteur nie. Maar sy het nog nooit stilgebly daaroor nie.

“Maak vir ons ‘n koffietjie, toe,” sê Martiens. Die ou nersderm is ook net te ongeskik om te vra. Hy deel slegs bevel uit.

“Nou goed,” sê tant Bessie na ‘n paar oomblikke se aarsel. Sou hy die egskeiding teenstaan en dit draai dan in die hoogeregshof, sal hy nie kan sê dat sy ooit onhulpvaardig was nie.

Sy kry ‘n paar koppies uit die kas en gooi water in die ketel. Sy trek ‘n vuurhoutjie om die gasplaat aan die gang te kry en hoor die gesuig-suig van agter soos Martiens sy pyp aan die gang kry. Binne oomblikke is die kombuis gevul met die walglike reuk van Boxer-tabak.

“Sies, man,” protesteer sy weer. En weereens ignoreer Martiens haar.

“Nou het ek vir Hans ore aangesit,” sê Martiens met ‘n skelm glimlag. Sy oë skitter.

“Ag jissie, Martiens. Wat het jy dan nou gemaak?” vra tant Bessie, ten spyte van haarself.

“Ek het daai ou by die registrasieafdeling gaan sien,” verduidelik hy. “Oor my naam op my bakkie.”

“Jy het dit mos laasweek al gaan doen.”

“Ja. Maar hulle reken ek kan nie MARTIENS gebruik nie. Dis klaar gevat. Ook nie MARTIENS 1, twee, drie, of watookal nie. Die beste wat ek kan doen is MARTIENS 14.”

“So? Wat maak dit saak?” sê tant Bessie. “Dis in elk geval die onnoselste ding waarvan ek in ‘n lang tyd gehoor het. ‘n Mors van goeie geld, as jy my vra.”

“Ek weier om nommer veertien te wees,” antwoord Martiens. Soos gewoonlik het hy haar besware bloot net geïgnoreer. “Dis net nie goed genoeg nie.”

Die ketel begin stadig kook. Deur die kombuisvenster sien tant Bessie hoe twee van die reunbrakke onder die vyeboom vir mekaar knor. Een van die tewe is seker weer op hitte. Sy gooi suiker in Martiens se beker. Drie lepels. Hy hou daarvan soet. Soet, en stil, en op sy plek. Swart en bitter vir haar.

“Hulle het dit met my besoek laasweek al vir my gesê,” gaan ou Martiens aan, asof tant Bessie hoegenaamd belangstel. “En toe maak ek ‘n plan, sien.”

O hél. As ou Martiens eers begin planne maak is die duiwel nie ver agter nie.

Tant Bessie gooi melk in Martiens se koppie en sit die bottel terug in die yskas. Sy gaan staan langs die kombuistafel, arms gevou. “Wat het jy gemaak, Martiens?”

“Hulle sê mos as die berg nie na Mohammed gaan nie, dan sal Mohammed na die berg gaan. Of so iets. Klink vir my na ‘n redelike simpel ding om te sê.” Ou Martiens frons, asof hy pas ‘n diep lewenswaarheid ontdek het. “Ek meen, dit werk mos so in enige ou se geval, nie waar nie? As die berg nie na my toe kom nie, sal ek mos maar na die berg toe gaan. Nou geen berg het nog ooit na my toe aangestap gekom nie…”

“Martiens!” roep tant Bessie ongeduldig. “Wat het jy gemaak?”

“Ek is toe Binnelandse Sake toe, sien,” begin Martiens weer.

“Binnelandse Sake?” vra tant Bessie. “Vir wat?”

“Vir my persoonlike registrasienommer.”

“Hulle doen dit nie. Hulle het niks met motorregistrasies uit te waai nie.”

“Net as jy nie slim is nie,” sê ou Martiens. Hy glimlag weer, dit wil lyk of sy nikotiengevlekte valstande gaan uitval. “Kyk.”

Hy sit die stuk papier waaraan hy vasklou op die tafel neer en stoot dit met ‘n flair na tant Bessie. “Kyk,” sê hy weer. “Hans Vermeulen se agterent.”

Met ‘n beklemming om haar hart tel tant Bessie die papier op. Dis ‘n amptelike dokument van die Department van Binnelandse Sake. Amptelike Naamsverandering, staan bo-aan. En sy sien dat Martiens wel gelyk het. Hans Vermeulen se agterent, inderdaad. Ou Martiens se naam gaan nou inderdaad op sy bakkie se nommerplaat verskyn.

Maar dit begemoeilik sake nou effens.

Sy sal weer die prokureur moet gaan sien. Want soos die dokumente nou staan, kan sy nie van die man skei nie. Die prokureur sal die dokumente van voor moet optrek. En hierdie slag sal die aanhef tot die stukke wat onbestrede voor die hof gedien gaan word moet lees: ‘Versoek tot ontbinding van die eg tussen Johanna Elisabet Marais en JFM523NW’.

Advertisements

One thought on “Tant Bessie Wil Skei…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s